From:Nadia Sent: Monday, 11 January 2010 4:08 PM Subject: RE: Ons derde kerfees
Hi Pa
Dis goed geskryf (Ons derde kersfees), maar moeilik vir my om te verstaan, ek weet nie hoe is dit om na ander land toe te trek en die gevoelens wat daarmee saamgaan nie.
So al wat ek dink is hoe kan die mense kla in so ‘n lekker plek? Nadat ek twee keer daar gekuier het, sal dit vir my die mees amazingste ding wees om Oz toe te trek. Ek kan nie indink ek sal die dinge hier mis nie!
Lief vir pa
From:Giulio Sent: Wednesday, 13 January 2010 7:38 AM Subject: RE: Ons derde kerfees
Hi Nadia,
Ek het lank probeer dink aan ‘n voorbeeld en besef toe dis amper soos om van jou bekende laerskool na ‘n nuwe hoerskool toe te gaan maar met díe verskil – jy ken niemand nie en boonop praat hulle KaapAfrikaans terwyl jy Transvaal Afrikaans praat. Jy eet pap met jou braaivleis en hulle eet brood met hulle braaivleis.
Dis nie die verandering wat die mens tref nie, dis die vreemdheid en die skielike afsondering – geen familie, geen pêlle, geen bekende plekke nie. Dit lei daartoe dat mens gedisorienteerd, verlore en alleen voel. Sommige is bang om uit te reik na die Suid Afrikaanse gemeenskap rondom hulle, sommige wil nie eers uit die huis gaan nie! Soms voel hulle teneergedruk en begin hoop verloor dat hulle ooit hier in Oz gaan aanpas. Die verlange raak sterker as die redes waarvoor hulle gekom het. Net die goeie ou tye word onthou en daar is nou n bewuswording dat hulle patrioties is; en hul familie, die wild, die bosveld en ‘n warm kampvuur mis!
Meer as genoeg redes om terug te gaan SA toe en die hele immigrasie afskryf as ‘n slegte ervaring.
Maar, dit het niks met die land self te doen nie! Die Aussies is wie hulle is. Ons is die immigrante. Dis belangrik om die verskille te erken en te kan aanvaar. Dis nie te laat om kultuurskok te navors nie!
Ons hoef nie ons kultuur prys te gee, daarom bemoedig ons altyd die mense om die taal en kultuur oor te dra aan hul kinders en dit so aan die lewe te hou.
Die mens wil behoort, aan ‘n familie en ‘n gemeenskap en sodra hy/sy in ‘n vreemde omgewing is en nie ‘behoort' dan is die natuurlike gevoel om terug te vlug na die bekende. As jy verseker weet dis n kort termyn opoffering vir n langtermyn belegging, trek dit jou deur die moeilike tye en gee jou nuwe krag want jy het n droom en n visie vir jou gesin en jou nageslag. Dit neem ‘n absolute wilsbesluit om te bly en ‘n weg in die onbekende te baan en ‘n nuwe lewe uit te kap. Dis baie belangrik om oor die gevoelens te praat, te erken en daarmee te deel. Om te immigreer sit jou n paar jaar terug maar as jy vir 2 jaar kan vasbyt is dit moontlik om ‘n beter lewenskwaliteit te kan he.
Lief vir jou,
From:Nadia Sent: 13 January 2010 08:02 AM Subject: RE: Ons derde kerfees
Aha, ek sien
Dis die ding wat my die grootste getref het toe ek daar gaan kuier, dat ek n uitlander is, en hulle verstaan my nie en ek verstaan hulle nie! Ek moet se, dis al wat my afgesit het van die land, niks anders nie.
Thanks pa,! Love you xxx
Heil die leser …
Ons het ‘n droom nodig om ons na ‘n terugslag te laat opstaan en om voort te gaan. Na die Vryheidsoorlog van 1901 het die boere opgestaan om hulle families en plase te herbou. Hulle het ‘n droom gehad; ‘n vrye Afrikander volk. Hulle het geweet dat dit moeilik gaan wees maar dit het hulle nie gestuit nie.
Was dit ‘n droom wat julle na Australia toe gebring het? Kan jy die droom onthou? Nou is die gepaste tyd om jou droom terug te roep. Skryf die droom neer en voeg daarby as jy wil - droom groot.
Miskien het jy nie ‘n droom gehad nie? Nou is die tyd om ‘n toekoms droom te skilder.
Neem ‘n vel papier en maak ‘n lys van al jou talente, jou sterkpunte, jou belangstellings en kennis, jou sport vermoeë en die buitelewe waarvan jy hou. Op ‘n tweede vel skryf neer waar jy die dinge op die eerste lys kan aanwend hier in Oz. Kyk na geleenthede, miskien ‘n klub of ‘n nie-winsgewende orginsasie of ‘n gemeenskapskring; miskien die kinders se skool waar jy die dinge op die lys kan begin doen en so n positiewe bydrae tot die gemeenskap kan maak.
Tot volgende keer – skryf en soek!