HOME     SUBSCRIBE     ADVERTISING     CONTACT US   
Magazine
Magazine     Articles     Blogs     Events     Clubs & Resources
by Abrama Ahlers en Erik Vosloo
 

Abrama: Welkom by ons in die ateljee, Wouter. Vertel ons hoe jou musiekreis begin het.

Wouter: Ek is gebore en getoe in Linden, Johannesburg. Toe ek 10 jaar oud was het my ouers ons na n simfoniekonsert geneem en gevra watter musiekinstrument ons graag wil bespeel. My broer het die klarinet gekies, maar ek het die orkes so bekyk en gesien dat al die wind instrumente votentoe wys, behalwe die fluit wat kant toe wys. Dus besluit ek die fluit moet spesiaal wees en kies dit toe.

Abrama: Hoekom is die fluit vandag nog vir jou die lekkerste instrument?

Wouter: Ek hou van die gedagte dat jy jou asem gebruik om jouself uit te druk. Destyds aan die begin van my musieklesse was my onderwyser siek en kon ek net na die fluit kyk vir n paar weke - my ouers was bang dat ek dit sal breek as ek dit aanmekaar probeer sit . . .Toe ek dit dus uiteindelik kon begin speel, was ek vreeslik entoesiasties daaroor. Ek het elke dag vir 3 ure lank geoefen. Ek is nog steeds mal oor die fluit, want dit is moontlik om klassiek te speel, maar dis ook moontlik om ander kleure met die fluit te maak.. Die kleure van die musiek is my passie en jy druk jouself op n unieke manier uit. En dan het ek natuurlik n baie goeie musiekonderwyseres gehad.

A: Het sy of jou ouers dadelik agtergekom dat hier n unieke talent aan die ontwikkel is?

W: Ek weet nie, ek was net so entoesiasties en wou net fluit speel. Dit begin miskien maar met die entoesiasme.

A: Is jy op hoerskool gespot aangesien jy die enigste seun was wat musiek as vak geneem het? Kinders kan tog so wreed wees . . .

W: Nee, ek is nie gespot nie, maar ek was definitief nie beskou as n koel ou nie. Die meisies in my musiekklas het later heel gemaklik geraak met my teenwoordigheid en noodwendig aangegaan met meisiewees en hulle eie prate gepraat of ek nou daar is of nie. Ek het darem ook in sport belanggestel en daaraan deelgeneem. Maar die musiek het nou nie eintlik die meisies aan my deur laat klop nie!

A: Jy reis baie vir jou musiek. Hoe beleef jy die gehoor in Australie?

W: Ek is eintlik baie beindruk met hulle. Hulle is oop vir nuwe kulture en invloede. Dis so maklik om hier n gehoor vol te maak. As ek net in my alledaagse ontmoetings iets noem van my konsert, stel mense oor die algemeen baie belang en vra meer uit en daardie aand daag hulle selfs op vir die konsert! Ek het natuurlik ook die inleiding vir Johnny Clegg se konsert hier in Melbourne gespeel wat n goeie eerste stap was vir Australie.

A: En die Suid-Afrikaners in Oz?

W: Julle is fantasties! Julle gee vir my sulke goeie ondersteuning.

A: Jy het n paar fluite saamgebring vir ons opleiding. Wat noem jy daai kleinste enetjie? Hy is maar so lank soos n liniaal.

W: Dit is n fife - eintlik n opleidingsinstrument vir kinders, aangesien hulle vingers by als kan uitkom. Ek hou van sy klank - hy kan eintlik net in Cmajeur speel.

A: Nou kom ons hoor bietjie hoe klink die Cmajeur.

Wouter speel toe vir ons n stukkie uit n bekende Ierse ballade.

Erik: Wouter, jou musiek is multikultureel. Jy het tyd in verskeie lande spandeer . . .

W: Ja ek het Argentinie al 4 keer besoek. Ek is mal oor die tango.

E: Jy was ook in Duitsland? Wat was hul reaksie?

W: Hulle hou baie van my musiek. Ek dink die Afrika invloede werk vir hulle. Afrika, Ierse, Suid Afrikaanse en natuurlik die Spaanse invloede soos die tango en flamenco is n wesenlike deel van my musiek. Dis maar ook waaraan ek blootgestel is en waarvan ek hou. My ouers het baie na klassieke musiek en ook Mediterreense musiek geluister en as kind het die vrou wat my soggens opgepas het, my aan Afrika elemente in musiek blootgestel het. Ek het self ook gereis na Suid Amerika - Buenos Aires in Argentinie. Ek voel musiek het n inherente kern en ek probeer dit kommunikeer sonder om te veel ekstra tierlantyntjies by te voeg. As jy daardie kern het, kan mense van verskilende kulture dit herken en waardeer.

E: Kry jy onttrekkingsimptome - soos n atleet - as jy vir n dag of langer nie speel nie?

W: Ja, ek voel net nie reg en lekker as ek nie elke dag fluit speel nie. Dit is vir my ook n vorm van meditasie - ek haal diep asem, raak rustig en maak mooi klanke. Baie van ons musiek is ook geskryf na n joga oefening.

A: Ja? Hoe so?

W: Wel, Paul (n joga instrukteur) en ek sal joga doen en dan daarna haal ons die musiekinstrumente uit en begin speel. Partykeer maak ons net mooi klanke sonder om musiek te lees en so het die skryf van nuwe stukke ontstaan. En ek het ook dansklasse bygewoon saam met David Matamela - hy is die choreograaf vir African Footprint. En Salome Sechele (die SA Latyns Amerikaanse danskampioen) was ook in die klasse en ons het dan na die dansklasse musiek gemaak. So het baie van ons liedjies ontstaan.

E: Nou jy het hier n interessante dun fluit met baie knoppies.

W: O ja ek is baie lief vir hierdie fluit - dis my goue fluit. Hy is 10 karaat goud. Dis soos die gewone dwarsfluit wat mens in n simfonie orkes sal sien. Maar ek maak nie net klassieke klanke hiermee nie. Ek kan ook funky klanke maak en sing terwyl ek dit speel.

Wouter voeg toe sommer daad by woord en demonstreer dit vir ons.

A: Sjoe, Wouter dit klink soos 2 verskillende instrumente - die klassiek en die funky.

W: Ja dis ook die rede hoekom my cd se titel Colour is. Die verskillende kleure wat die fluite maak en dan ook die kleure van die invloede van verskillende kulture.

A: Jy het die Vienna Institute of Music se Perrenoud Foundation Prize in 1997 gewen. Wat beteken hierdie prys vir jou?

W: Ja dis lekker om erkenning te kry. Ek het n paar jaar afgevat om in die klassieke musiekwereld te kompeteer, maar vir my persoonlik beteken SA erkenning baie meer.

A: Sjoe, dit maak my Afrikanerhart sommer nou lekker warm klop.

W: Die kompetisie was net in die klassieke veld, maar ek wou nog altyd al die ander rmusiek ook gespeel het. So 6 jaar gelede het ek die geleentheid gehad om daardie oorgang te maak en my eie musiek te begin skryf en my kreatiwiteit die lig te laat sien.

E: Is dit vreesaanjaend om die oorgang te maak? Want wat jy gedoen het, was n nuwe ding wat niemand voorheen nog probeer het nie.

W: Ja ek het eintlik nog nooit aan myself gedink as iemand wat enigsins kon komponeer nie. Ek het dit maar ontdek toe ons so begin speel het na die jogaoefening. Dit het eintlik heel toevallig gebeur, omdat Paul en ek besluit het om musiek te speel sonder om dit te lees - sommer te speel wat in ons koppe aangaan.

A: Sou jy reken die joga dra by tot die sukses?

W: Wel ja, dit help om mens heel rustig te maak. Jy raak ontslae van al die gedagtes in jou kop en fokus op jou kreatiwiteit.

E: Daar is nou n groot debat aan die gang rondom Afrika klassieke musiek.

W: Ja baie van die liedjies is geskryf as klassiek, maar na verwerkings en ander instrumente bykom, is dit nie meer tradisioneel klassiek nie. Die liedjie Khokho is sterk klassiek met Afrika klanke. Die lied begin met water en tydens n lewendige opvoering begin ons met waterperkussie.

E: Julle mense moet dit sien. Lamine Sonko het n groot houtbak gevul met water voor hom en begin slaan op die water. Dis heel uniek. Hoe voel dit as jy iets so regkry - heel toevallig maar as jy na die tyd terugkyk, besef jy dit was perfek.

W: Jy wag lank vir daardie oomblikke, want vir elke ding wat mooi werk is daar tien goed wat nie werk nie. So jy waardeer dit ook uitermate baie.

A: Is daar nog n CD in die pyplyn?

W: Ja ons is besig om in Johannesburg op te neem. Chris Chameleon, Nianell, Phresh Makhene en Zolani (van Freshlyground) gaan saam sing en daar is ook n Ierse lied met Afrika stemme en n kitaarspeler, maar die pad is nog lank. Ek is baie perfeksionisties. Ons hoop om dit in April in SA vry te stel en dan so n paar maande later hier in Australie.

A: Ons sal graag vir jou n konsert reel hier in Geelong met die vrystelling van die nuwe CD.

E: Wat hou die toekoms vir jou in? Waarheen wil jy gaan met hierdie musiek van jou?

W: Ek wil maar net myself uitdruk en wie ek is in die musiek uitleef. Eintlik wil mens net he dat jou musiek mense moet raak soos dit jouself raak en daardie emosie of idee by ander mense tuisbring. So vir my gaan dit daaroor. En as die geleentheid hom voordoen, dan reis ek graag en speel my liedjies.

E: Dis n groot proses. Jy stel n groot stuk van jouself bloot op die verhoog.

W: Dis fantasties as mens dit kan regkry om dit goed uit te druk. Daardie iets wat jy op geen ander manier kan deel nie. Met gesels kan jy nie daardie besondere gevoel weergee nie.

A: Wel, Wouter ons arme plebse probeer dit met woorde uitdruk! Jy doen dit op n mooier en beter manier. Ons wens jou graag besondere voorspoed toe op die pad vorentoe.

 
 
 
Posted in social |
Posted by Abrama Ahlers en Erik Vosloo
09 Feb 2010



Articles by Author
Articles by Group
Archives
Mar 2013
  1 2  

No comments yet!

 
Copyright 2009 Sabona   |   Disclaimer   |   Privacy Policy    |   Articles
Island Printing Gold Coast.        Powered by webEFEKTs.