HOME     SUBSCRIBE     ADVERTISING     CONTACT US   
Magazine
Magazine     Articles     Blogs     Events     Clubs & Resources
by Giulio di Somma
 

Ja nee, met die sing van die liedjie kom die heimweë. Die mense rondom ons sing dié kerslied in Engels maar dit wil nie vlot nie, klink nie reg nie! Amper soos toe Boney M, die destydse popgroep, gesing het uit Psalm 137: “How shall we sing the Lord's song in a strange land?” Hoe sou ons die lied van die Here kan sing in ‘n vreemde land? En tog is dit waar ons is, ‘n vreemde land, en ons sing.

Verlies is alomteenwoordig en is deel van die lewensiklus vanaf geboorte, kindwees, volwassene, outoppie en dan hemel toe. Al langs dié pad word verliese ervaar. Ek onthou toe ons destyds moes trek van Johannesburg na Secunda met die bou van Sasol II. Ons seun se baster hondjie kon nie saangaan nie. Ons het rondgesoek vir ‘n goeie familie om vir die hondjie, Panther, te sorg. Voordat dit wel kon gebeur is Panther noodlottig getref deur ‘n motor. Vir dae nadat ons Panther se liggaam by die DBV gaan aflaai het het ons seuntjie elke nou en dan gehuil en niks kon hom troos nie. Dit was altans sy hondjie!

Die lewe gaan voort; ‘n speelding breek, ‘n ernstige motorongeluk, ‘n egskeiding en soveel ander verliese wat pyn veroorsaak. Gewoonlik word ons geleer dat ‘n mens deel met die pyn deur sterk te wees. Jy huil vinnig klaar, of bittermin, en vee jou trane af, maak jou gordel een gaaitjie stywer vas en gaan aan asof dit wat gebeur het tog nie so erg was nie. Soms troos die belofte van vervang, maar dit kan nooit die plek van die oorspronklike vul nie. En soms is die verlies tydelik maar die “Totsiens” maak nogtans seer, ons sal mekaar weer sien! Soms is die verlies soos die dood - finaal.

Vroeg die oggend van die 27ste Desember 2006 het hulle die skeepshouer buite ons erf gelos. Ek en Dolores en twee helpers het wat oorgebly het van ons meubels en persoonlike besittings sorgvulding ingepak en vasgemaak. Dit was so min omdat ons so baie weggee of verkoop het. Ons het ‘n laaste keer deur die leë huis geloop en die herinnerings het spookagtig rondom ons gedans. Ons het die lief en leed van ‘n gesin wat so baie van die lewe ervaar het gegroet. Oor twee dae sou net ek en Dolores met twee tasse op die vliegtuig klim om die reis na ‘n nuwe, onsekere toekoms in Australia aan te durf.

Waar begin mens om te deel met die pyn van afskeid en die aandurf van ‘n nuwe tuisland? Kan dit wees om die realiteit van die situasie te aanvaar? Hoe doen mens dit? Miskien om dit wat agtergebly het regtig te treur! Miskien kon jy nie huil nie, jy moes sterk wees vir jou eggenoot of jou kinders. Miskien het jy gedink dis laf om so sleg te voel, jy gaan ‘n nuwe toekoms teggemoet! As jy graag iéts wil doen kan jy begin met ‘n brief aan God waarin jy al jou gevoelens en verliese neerskryf en jou noodlot teenoor Hom bekla.

Nee wat, om jou geboorteland agter te laat is ‘n groot verlies en jy mag dit treur. In die volgende weergawe sal ons kyk na die treur proses en of dit help met dié aanpassing.

Mag 2010 julle stoutse verwagtinge ver oortref!

 
 
 
Posted in social |
Posted by Giulio di Somma
09 Feb 2010



Articles by Author
Articles by Group
Archives
Mar 2013
  1 2  

No comments yet!

 
Copyright 2009 Sabona   |   Disclaimer   |   Privacy Policy    |   Articles
Island Printing Gold Coast.        Powered by webEFEKTs.