HOME     SUBSCRIBE     ADVERTISING     CONTACT US   
Magazine
Magazine     Articles     Blogs     Events     Clubs & Resources
by Abrama Ahlers
 

Abrama: Iemand het eenkeer gese die lewe is 'n lied, maar jy moet jou eie een skryf - Nou ek reken Jean du Plessis, my gas vandag, het hierdie gedagte tot dusver pragtig uitgeleef. Jean, jy is gebore en getoe in Khorixas, Namibie.

Jean: Ja, Abrama, my pa was die skoolhoof van Damara skool in Khorixas - 'n skool net vir swartmense, so ek kon nie eers by hom skoolgaan nie. Daar was slegs 500 blanke mense in Khorixas.

A: Die naam Khorixas, Waar kom dit vandaan?

J: Die dorpie se naam was eers Welwitschia - vernoem na die Welwitschia Mirabilis. Dis 'n plant wat in die woestyn in Namibie groei en oorleef met slegs die dou wat soggens deur die blare opgevang word.

A: So jy is op 'n klein plekkie gebore. Dit moes wonderlike kinderjare gewees het?

J: Ja ons het ons dae deurgebring in die veld en tarentale gejag en dassies geskiet. Ek is skool toe in Outjo waar ek in die koshuis gebly het tot st 6 - dis so 150km vanaf Khorixas. My verdere hoerskooljare is in Otjiwarongo deurgebring. Elke keer woon ek in 'n dorpie so bietjie groter as die vorige een en is verstom oor als wat om my aangaan.

A: En toe trek jou ma Windhoek toe na jou Pa se dood?

J: Ja maar ek het nog in Otjiwarongo gebly en skool daar klaar gemaak, maar Windhoek was vir my nog 'n openbaring, waar daar soveel meer mense is. Van daar is ek toe Bloemfontein toe vir my universiteitstudies, en het toe my LLM graad voltooi tydens my dienspligjare.

A: Waar het jy toe begin werk?

J: As senior lektor by die Universiteit van die Oranje Vrystaat gewerk tot 1991, nadat ek 14 maande in Londen navorsing gedoen het en my LLD graad BEHAAL het.

A: En daarna?

J: Daarna is ek aangestel as professor aan die Randse Afrikaanse Universiteit en in die tyd daar is ek vir 'n jaar verbonde aan 'n universiteit in Duitsland en ek het ook toe 3 jaar na mekaar tyd spandeer in Shanghai wat ek vermoed tans so net oor die 18 miljoen inwoners het.

A: Sjoe, van Khorixas na Shanghai! Wat 'n aanpassing. Hoe het jy gevaar met die kos? En die baie mense? Het jy partykeer vasgedruk gevoel?

J: Nee, Abrama, dit was vir my wonderlik - Ek kon net met verbystering kyk na Shanghai toe ons van die lughawe af inry stad toe. Mens dink een oomblik jy sien die middestad, maar dan kom jy agter dis maar net nog een van die talle voorstede met reuse wolkekrabbers wat jy sien. So ry jy verby die een na die ander tot jy uiteindelik in die ware middestad kom. Ongelooflik met soveel mense wat loop, motorkarre stamper teen stamper en derduisende fietse en huurmotors. ‘n Fassinerende ervaring wat ek geweldig geniet het. Ek het ook al New York besoek, maar Shanghai beindruk my meer - Nou is my droom om Tokyo ook te besoek!

A: En vandag is jy in Geelong. Hoe het jy hier uitgekom?

J: Ek is in 1998 uitgenooi as besoekende professor by Deakin Universiteit en het kort daarna permanent hierheen verhuis.

A: So, jy het dus gehou van wat jy hier gesien het?

J: Ja, hier kon ons as gesin meer kwaliteit tyd saam spandeer. In Johannesburg het ek veral die kers aan albei kante gebrand. Hier kon ons weer tyd saam spandeer. Ek dink ons kon hier makliker ons dag se brood verdien en onder meer gemaklike omstandighede. Daar is nie daardie ewige druk om te presteer nie. Mens het meer tyd hier, voel veiliger en is dan ook 'n beter mens hier. Ek waardeer die effektiwiteit en veiligheid in Australie.

A: Waarvan hou jy nog baie hier in Oz?

J: Dis wonderlik om nie elke dag oor my skouer hoef te kyk nie. Dis wonderlik om nie agter diefwering te hoef te slaap nie. Dis wonderlik om nie wolfhonde nodig te he om ons op te pas nie. Dis wonderlik om 12uur middernag in die stad rond te loop en net skrikkerig te wees vir die dronkies. Dis 'n voorreg om jou land te geniet en die ruimte is wonderlik.

A: Gepraat van die ruimte. Dit laat jou seker terugdink aan Namibie?

J: Ja, die verlatenheid, die droogheid, die ruheid , die barheid het 'n sonderlinge kwaliteit - net soos in Namibie.

A: Jy reis graag rond en het seker al mooi plekke hier in ons nuwe land ook ontdek?

J: O ja, ek hou van Darwin, Echuca, Uluru. Dit is besondere plekke om te gaan verken. Ek is baie positief oor die Aussies ook. En vind die kinders is baie meer ontspanne hier en hulle het goeie geleenthede.

A: Wat sou jy graag vir nuwe aankomlinge wou se?

J: In die nuwe land is niemand iets aan jou verskuldig nie. Jy moet gaan uitreik. Soek na geleenthede wat dit vir jou lekker kan maak. Beoefen jou stokperdjies. En onthou moenie die lande teen mekaar afspeel nie. Elke land is 'n wonderlike en pragtige land. Negatiewe vergelykings gaan jou net ongelukkig maak.

A; En vir jongmense?

J: Geniet en waardeer wat julle het. Besef hier is legio geleenthede wat nie noodwendig in ander lande is nie en benut daai moontlikhede en geniet jouself.

A: Nou Jean, op 'n meer persoonlike noot: Jy is bekend as 'n flinke skinker?

J: Ja, ek hou van kuier en dis vir my lekker om mense te onthaal.

A: En jy is mos gekroon as die potjiekos koning in Geelong? Twee keer al!

J: Ja, Abrama, dit is reg. Maar nou wil ek 'n beoordelaar word, maar niemand wil my toelaat nie!

Jy mag herinner, maar die jaar toe ek nie gewen het nie, was jy op die

proe-span.

Ek het glo nie 'n tradisionele potjie gemaak nie, maar wie wil nou tradisioneel wees as jy in Oz sit en die potjie kan maak met kangaroos wat op die golfbaan roondloop en koalas wat in die bloekombome sit!

Regtig sommer net 'n grappie – die potjiekoskompetisies hier is sommer baie lekker en almal het 'n lekker tyd – sommiges selfs met brandwyn en coke en ander met whisky en Sprite!

A: Wat is jou passie hier in Australie? Wat is vir jou belangrik om uit te leef?

J: Ek is betrokke by regshervormingsprogramme wat ook uitreik na Suid Afrika en maak so 'n bydrae vir SA oor die verre afstand. Verder hou ek van navorsing en vanuit die regsbeginsels eien ek ontwikkeling in SA en wil dit dan ook bekend stel in Australie. Die mense reken ek is 'n beter ambassadeur vir SA hier in Oz as wat ek ooit sou kon wees het ek daardie kant gebly.

A: Jean, baie dankie vir die lekker gesels en raad uit jou ervarings. Jy weet, Reba McEntire het gese: “To succeed in life, you need three things: a wishbone, a backbone and a funnybone.” Nou ja, ek reken jy het aldrie in oorvloed. Jou lewensreis van Khorixas via Shanghai tot hier in Geelong getuig daarvan. Ons wens jou graag voorspoed en vrede toe op jou pad vorentoe.

 
 
 
Posted in community |
Posted by Abrama Ahlers
10 Dec 2009



Articles by Author
Articles by Group
Archives

No comments yet!

 
Copyright 2009 Sabona   |   Disclaimer   |   Privacy Policy    |   Articles
Island Printing Gold Coast.        Powered by webEFEKTs.